This picture is on the back of my car, too. A group of Boer fighters.

Semantiese opdrifsels aan my tuisfront

Daar is nou soveel karakters en ander semantiese opdrifsels wat nou vir aandag begin te kompeteer in my kop. Die geskiedenis van my mense gaan swanger aan verhale wat nog daar buite in die gedagtes van oumense bed opmaak, en veral in Noord-Natal, (dis nou die  bokantse Noord-Natal aan die langskaduweekant van die Tugela) waar herinneringe nog steeds aan ossewakappe se seile vasgesmeer sit. My voetspore op die stofvlakte van Bloedrivier het nog nie loop doodwaai nie, en op die klipperige gras van Spioenkop sit hulle nog soos ouvolkies in die reëntyd in ‘n ry waar my kop hulle kan sien. As ek mooi kyk.

My oorlede ou moeder Petra sou jou vertel hoe haar familie, wat al nege geslagte hier is, ook die bloed van Zoeloe- en Xhosa-assegaaie gevoel en oorleef het. Ons skryf al hierdie stories oor die 300 jaar lank. My de Jager oupagrootjie het op ‘n lys in die Simonstad-krygsgevangene kampo beland, my ou Naas en ouma Louisa as jong kinders in die Brandfort- en Howickkamp onderskeidelik. Ek doen vandag nog toere na Bloedrivier, maar ek het nie meer my eie toervoertuig meer nie.

My benadering tot die geskiedenis, veral militêre geskiedenis, is eenvoudig. ek bied net aan wat ek uit kontemporêre bronne soos sekere boeke van veral Afrikaanse skrywers soos Fransjohan Pretorius , Reitz, Bothma en ‘n verskeidenheid van Engelse outeurs soos Pakenham, Farwell en verskeie ander kan verwerk. Ek vertolk my geskiedenis soos die oomblik dit vereis, en ek sal dit nooit aanbied as ‘n wapen om propaganda vir bepaalde standpunte te maak soos wat verskeie Suid-Afrikaanse en Britse skrywers wel doen nie.

Daar is nog verskeie grys areas, soos byvoorbeeld die Slag van Bloedrivier en verskeie punte van belang uit die Anglo-Boereoorlog uit, maar tot tyd en wyl navorsing lig kan bied, sal ek dit aanbied op grond van wat ek dink daar gebeur het. Daar kom net eenvoudig tye wat mens nie meer die inligting het nie, veral as dit al baie oud is. Ek neem vandag geen wapens op teen huidige Britse besoekers oor wat hier gebeur het nie, omrede die Britse Ryk nie meer bestaan nie, hulle nie teenwoordig was by wat hulle voorvaders sou gedoen het nie, en dit net eenvoudig nie ‘n gevorderde argument is nie.

Vrede.

Die Woestynrot.

Similar Posts