‘n KZN slagveldtoer in Afrikaans, met Covid 19 en al.

Die Noord-Natalse dorp, Dundee, bevind dit self in die hart van verskeie slagvelde, uit drie oorloë, waarvan min mense oënskynlik weet. ‘n Toer deur Noord-Natal is nie net grasdakhutte, Khoisantekeninge en Ngunibeeste nie! Ek is ‘n onafhanklike slagveldgids wat al amper 16 jaar vir myself werk, en doen my toere hoofsaaklik in Engels, want my meeste kliënte is Engelstalig. Suid-Afrikaanse kliënte word al hoe meer bewus van die epiese verhaal wat hier om ons versprei lê, maar hulle daag nog nie in getalle hier op nie.

Die twee mees ikoniese slagvelde is Isandlwana en Rorke’s Drift, waar die Britse Leër op een dag geskiedenis gemaak het deur ‘n verbysterende nederlaag teen die Zoeloe-leër by Isandlwana op die lyf te loop, en dan net ‘n paar uur later die verstommende Slag van Rorke’s Drift, waarvan die epiese, sewe uurlange verdediging van die pos daar vandag nog die sinne laat duisel.  Hierdie aksie word vandag nog onthou as die meeste Victoriakruise in een slag aan een regiment toegeken. Hierdie rekord is nooit geëwenaar of gebreek nie. “A loaded Martini-Henry and a lot of pluck behind it,” is een van die aanhalings uit ‘n massa van skryfwerk wat al oor hierdie geskiedenis die lig laat sien is.

Op die verlate, byna eensame vallei van sugte waar die Slag van Isandlwana op 22 Januarie 1879 plaasgevind het, is die witgeverfde soldate-grafstapels die enigste getuienis daarvan. Mense moet nou onthou dat die konfrontasies teen die Boeremagte nie die enigste militêre optrede van Brittanje in Suid-Afrika was nie. Van 11 Januarie 1879 tot 4 Julie 1979, ongeveer ses maande, het Brittanje ‘n bloedige oorlog teen ‘n oormoedige Zoeloe-leër geveg. Ek begin gewoonlik my toer met ‘n oriëntasie oor die redes vir die stryd, en die bepaalde strydkragte wat teenwoordig was.

Daarna stel ek jou aan Generaal Thesiger, beter bekend as Lord Chelmsford, en sy staflede voor. Ons kyk na ‘n uitgeslape Zoeloe-generaal Ntshingwayo kaMahole Khoza, jong Britse infanterie-luitenante wat nie regtig verstaan hoekom hulle nie wen nie, en ‘n vergete terugtog, of eerder vlugtog, oor die klippe en doringtakke van die Vlugtelingsroete, en die skrikaanjaende Buffelsrivier, wat deur daardie nou vallei waar hulle moes oor, ‘n formidabele obstruksie was. Ons gesels met Melvill en Coghill, die twee luitenante wat roem verwerf het vir die redding van die Koninklike Vaandel. Daar is nog heelwat mense. Sersant Gamble, wat vergeefs om hulp gepleit het toe Brickhill by hom verbyjaag, die traumatiese vlugtog na Vlugtelingsdrif toe die Undi-korps die pad na Rorke’s Drift afsny, en die grimmige weerstand tot aan die einde op die slagveld.

Kom kyk dit. Ons kan selfs op Spioenkop ook ‘n draai maak. Ek wag vir julle. Bring jou kinders saam, laat ek hulle kan vertel van hulle geskiedenis.

Vrede

Johann Hamman (KZN 0897)

Die Britse skrywer Ian Knight, en ek, by Rorke's Drift

Ian Knight, links, en ek, by Rorke’s Drift.

 

 

This entry was posted in Battlefield Tours, British Army, KZN Battlefields, Personal, Tourism, Travel, Uncategorized. Bookmark the permalink.